vuurklip

Afrikaans
   Peter Blum
   Boerneef
   Carol Clark
   TT Cloete
   Clinton V. du Plessis
   Louis Esterhuizen
   Elisabeth Eybers
   Ingrid Jonker
   AD Keet
   Olga Kirsch
   DJ Opperman
   SJ Pretorius
   Veralda Schmidt
   Adam Small

      
INGRID JONKER
uit Versamelde Werke (Perskor 1975)

ONTVLUGTING (1956)
   vir Abr. H. Jonker

LIED VAN DIE LAPPOP

Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat

Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof

My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf

Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop

en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.

Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.




ROOK EN OKER (1963)
   vir Uys Krige en Jack Cope

EK HERHAAL JOU

Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het 'n smal skadu
en nag geel kruise
die land sonder aansien
en die mense 'n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak




BITTERBESSIE DAGBREEK

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
'n spieël het gebreek
tusen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

Papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son




TOE MAAR DIE DONKER MAN

Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap 'n ou man wat
'n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en 'n rug gebuk aan sy jare.

   Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

   Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet
uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toe maar, die donker man




MY POP VAL STUKKEND

Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit 'n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son

deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende staraat
my pop met 'n naam soos 'n liggaam
wat net soos 'n mens kon praat

My pop soos 'n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand

My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug

Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo -
as ek sou val uit 'n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só




ONS
   (vir andré)

só sal jy áfstérf van my
soos jou vergeefse saad
nakend soos water brandblink
soos laat
april
soos hande nakend

mooi soos sterflikheid
soos 'n laaste woord
treurig soos bloed
geen kleine dood

môre brandblink ons onverwek-
te saad môre
breek die bloeisels
nuwe meisies soos maagde
môre
sterf ek en jy




KANTELSON (1966)
   Vir Simone

HOND

Ek lê onder jou hand - 'n brak
in die knorrende stilte
in die tjankende maan
getralie tussen die sterre, sy
in haar ontsettende
wit kom en gaan.

(Ek wou ook nog gaan hase jag
oor my eie karoo
oor my brandende vlakte
van oker tot oker, o
wit vlaktes van jou hande!)

Vanaand sal ek met my tande oop
ruk aan die sluwe ritme van die maan
luiter na my soetheid en verte
my langluidende blaf
uit my hok; wit maan, wit baas,
in die nag.




EK BETREUR JOU

Ek betreur jou wasige liggaam
blou soos jou oë wasig en wyd die see
My hand van stof
kan jou nie behoed nie
kan skaars die pad verander
waarop jou neerslagtige voetstappe
moet rus in wier
My hand van stof
kan die rotse nie trotseer nie

Maar die meeue kan




ALLES WAT BREEK

Alles wat breek, val of eindig
- soos die uitstorting van die saad -
het geen ander betekenis
as die verraad

Want alles gevorm, voltrek of begin
- soos die lewe verwek in die skoot -
het geen ander volbrenging
as in die dood




MY OMHELSING HET MY
    VERDUBBEL


My omhelsing het my verdubbel
my borste roep na mekaar
die twee kopspelende maats
en my hande omsluit my geheime

in 'n kamer ver weg
agter die gestorte herfs
kyk jou oë verdwaas
na die spieël van jou lyf
   
   

21-05-2024 17:03:28
page 154/12 count: 2
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25