T.T. Cloete
uit Jukstaposisie,
Tafelberg uitgewers, eerste uitgawe, eerste druk 1982
Leipoldt 100
Beste Leipoldt die mense is nog soos altyd op geld
gesteld die hekseseks is nog net so volop en lekker maar meer
openbaar en sonder nawee daar is vandag nog steeds geweld
soos in jou tyd die mens bly degenereer
sonder dat daar egter 'n einde kom
aan sy degenerasie Slegs enkele malles laat hulle moveer
soos altyd om onder miljoene dowes versies te maak te dom
bly die meeste om te leer
van Boggom en Voertsek Nog steeds kneusbaar
is die plant nog altyd welriekend
is die grond en die blaar
die krieke deurentyd ongehoor kriekend
nog steeds is daar die warm klip en die bossies
wat songeur die insek en die voël
nog steeds die varing en katdoring die klossies
bibber nog spokige aaklighede bly goël
op verlate plase Maar nog altyd die grootste wonder
is dat liefste plekke waar jy eenmaal was
steeds oos bly lê van waar die son onder
gaan ver anderkant jou as
Huis oordag
ek het om my te vestig in vreugde 'n huis gebou
vir stoeiende seuns vlinderige dogters verwek
in ekstase en 'n geliefde teer gekweste vrou
vir baie vriende om nes te maak
'n plek vir swaels hangplek
vir baie skilderye wat bewaak
moet word boeke rak op rak om huis te hou
vir die groot stilte wat skrikgewe
aardebewend in die dak in die stene en die fondament kraak
Huis snags
snags na middernag
kom daar 'n opstanding in die leë
vertrekke die ekstroverte bediende begin vet lag
deur die huis
die vader maak rusie met die gedweë
teer dogter in die kombuis
word die verjaarsdag van die gebreklike geliefde seun
voorberei met teensin en neurose
onder die vader se gewig kreun
die moeder in haar slaap hoorbaar raas
verydeling in die badkamer 'n slapelose
soek melk en kaas
in die yskas vir die vrees van die dagtaak
word die pille en medisyne
gesluk die stoele kraak
van vermoeienis en verveling teen dagbreek vlug
in 'n gestaltelose ewige hol doofstomheid die pyne
en vreugdes se nuttelose geruis kokkerottig trug
Sonante dorp
die dorp het dag en nag geluid
van motors en fabrieke daar runnik
die bierwaperd die uil
onhoeheil die straler knal ver fluit
die trein heimwee eensaam snik
die getroudes ontroosbaar in mekaar huil
verliefdes eenkant 'n lyster 'n duif
geluid sag iewers kreun 'n sterwende iewers gil
geboorte daar word gefluister
by pyn flink klak skoene sag skuif
pantoffels die dood bly diefstil
onsigbaar in die duister
vriende skinder lagstuipend
gesellig die dorp wil
jil die asemende dorp is sluipend
na kosbare suisbloed op luister
Grieke vandag
Hulle konings van goddelike geboorte
en oorvloed gode self het hulle eeue gelede
reeds in die steek gelaat. Goer as sekere soorte
lewensmoeë plante of diere het van hulle selfs hele stede
uitgesterf. Hulle hemele is tot museums geruïneer
vol vase, vol beelde, tot puintempels met altare
en allerlei brokke klip en tablette vir geleerdes
en mondaine toeriste uit die lande van die barbare.
In swart geklee sit verarmde bejaarde
vroue in klein tandelose groepies
voor die deure, mans met stoppelbaarde
sit op die patios, om die oë en mond groefies
van die sout see en die harde aarde. Hulle praat en lag
min, kyk die toeriste se kamera skugter
aan, rook en lees koerant, dink bedaard en verwag
die dood rustig en onbevrees en nugter.
Dit wat oorbly, berggehuggies bo seë met bote, aarde
met weivelde en herders en skape onder die geel sonlig
is van 'n voldane blywende waarde
en as blote werklikheid heilig eenvoudig.
Gomer
huise staan stil en wit
in die sondagsonlig half bewerig
tussen bloekoms waar klanke in sit
en vink op die helder herfsnamiddag
elke windstreek het sy geluid
gillende meisie huilende kind 'n hond wat blaf
van oos na noord na wes na suid
hoorbaar uremeters rondom en veraf
verver en stilstil vat
'n jong man met vonkende speke
na sy meisie die geelbruin grondpad
soos alle ander naweke
mens kan elke ding hoor
en sien helder sonderling apart
bas oos geel wit swart
hulle val uit die windstreke bymekaar
ineen bewende huis vonkende fiets meisie wat lag
bloekom en vink hond en kind hulle vergaar
mekaar in 'n plaasnamiddag