onmag I
'n mens mag wel wik
maar sy lot word geskik
deur magte waaroor
geen god eers beskik
paasvrydag 13 april 1990
onmag II
vanaf jou eerste tree
wat jy as groeiende
lewe gee
neem jy beheer
oor jou skip se roer
besluit jy self
hoe jy oor die waters voer
beskik jy self
oor die keuse
van linker of regterkant
maar hoe jy ook mag stuur
jou eindpunt is bestem
en is nie te ontwyk
sodat jy dit oplaas
tóg deur eie hand bereik
maandagaand 28/11/94
entropie
in elke lewe word
vir baie kort
die tweede wet
opgeskort
teen daardie wet
is niks bestand
geen lewenswil en geen gebed
17 september 1989
verwydering
die dag (en ek) is gedaan
ek verwyl my tyd
met die blokkiesraaisel
en dit terwyl
die raaisel van die lewe my ontgaan
maandagaand 29 maart 1993
|