vuurklip

Bestek
   Deel 1b
   Deel 2b
   Deel 3b
   Deel 4b

      

Bestek Deel 3


twintig polisse

vir die wis
en die onwis
het ek 'n polis
teen elke gebeurtenis

om voor ek oud is
af te tree
op my plekkie
by die see

ek het skraal
gewerk met marg
in plaas van botter
poli onversadig gebly

maar niks kon my verassureer
teen die karsinoom
wat my liggaam nou verteer.


Afrekening

Die voorsitter maan
alle lede tot orde.
Koppe word getel,
is daar 'n kworum?
Punte van orde word gestel.

Belangrike sake kom voor,
mindere moet oorstaan.
Besluite word geneem,
oordele word gevel:

Wie word bevorder;
wie word afgesit;
wie het nog 'n rol te speel;
watter een is een te veel?

Die boekhouer
het alles afgereken,
die griffier
het alles opgeteken.

'n Finale bevel
word dan aan ons bestel.



die alwyne van seweweekspoort

hulle hou daar die wag
oor klippe gebreek
deur 'n mag
wat op meer
as net klippe hom wreek

is daar ook vir ons 'n wag
en is ons kláár gebreek
of hou hy nog
veel meer in pag
om later ook op ons te wreek? 



(on) skuld

ek is met naelstring verbind
aan 'n jeug in 'n knus kombuis
met koolstoof vol warm as
beskermd teen die gedrog
van die werklikheid
deur onkunde
en grootmensbedrog

vandag sit ek verskans
agter glas en beton
die werklikheid verdryf
deur grootmensselfbedrog

ons koolstoof in
robertsonstraat, ermelo 1952
21 desember 1994
woensdagaand



rekord

jou geboorte
word gesertifiseer
jou dood
deur een of ander
geverifieer

jou balansstaat
is ten slotte opgemaak
deur menige sertifikaat
soos uitgereik
deur 'n skimmel burokraat

van wie of wat
jy eenmaal was
bly weinig oor:
die ampspapier
lê só min vas

4 september 1995


 

   
   

20-06-2025 23:51:58
page 75/1 count: 42
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25