Bestek Deel 2
Djagganat
Nooit swig ek weer op twintig
voor swakheid van die vlees nie.
Nooit sal ek weer op dertig
die middeljare vrees nie.
Nooit sal ek weer op veertig
vir die dood bang wees nie.
En nooit hoef ek op vyftig
van kanker te genees nie.
Maar die dolos van die tyd
kan ons nimmer lees nie
en niks sal ons vrywaar
van die tyd se gees nie.
voorspel
klein bou ons ons werelde
al spelend' in die sand,
sien ons lugkastele
in wolke bo die strand.
die voorspel tot 'n toekoms
wat niemand wil voorspel
al lê daar alreeds tekens
vlak onderkant die vel.
wat kom is in jou gene
onwrikbaar ingebed:
die dood woon in jou bene
hy asem deur jou mond
en wit gryns jou skelet
vanuit 'n bloedrooi wond.
prokrastinasie
onvoltooide take
oorwoeker my
woning van voorhuis
tot kombuis
briewe half af
of nooit gepos
stories half gedigte
twiste steeds onopgelos
maar een groot taak
voltooi homself
en naas hom
maak niks nog saak.
winter
een vir een
sterf my wortels af.
blare doen afstand
van opgegaarde son
uit vergange seisoene.
die skors van my verweer
teen vervloë storms los
en val af.
naak
bly my geen skans
|