vuurklip

Bestek
   Deel 1b
   Deel 2b
   Deel 3b
   Deel 4b

      

Bestek Deel 1


vervreemding

mense val my áf
soos bas van 'n bloekom

my jaarringe sluit
al meer en meer uit

en eendag as ek brand tot as
weet niemand hoe alleen ek was

1994


oerknal

in die oerknal word
na baie kort
die ganse heelal
uitgestort

ons kennis
van die kosmos
van kwark tot kwasar
skyn kompleet

feite en teorieë wemel
soos snags sterre
aan die hemel

deur soveel weet
is ons verblind
die donker word vergeet


rekenaar

die rekenaar
kan met die mips
van sy binêre brein
'n mens se klein vermoë
met nulle en met ene
geheel en al eklips


maar:
hoef nie die lewe te begryp
en is ontdaan van wroeg en wik
om oor sy toekoms te beskik

en sal verlange, leed en pyn
in verse nooit beskryf
nóg ander menslike bedryf
wat spruit uit bloed en brein
in sy meganistiese bestaan
ooit in kan lyf


 

   
   

21-06-2025 01:05:36
page 73/4 count: 49
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25