Proteste Deel 3
depressie
soetwyn help verlig my las
en laat my wêreld wasig swaai
maar die fôkop buite my vensterglas
vergroot met elke dag se draai
van die aarde om sy eie as
saterdag 13 maart 1993
tv uitverkorenes
die sauk se nuuskierige agies
bekyk die kinders van somalië
se opgeswelde magies
ons fokus op die wêreld se swaar
intussen word die beelde
van ons eie verhongerende kinders
ons gespaar
donderdagaand 11 maart 1993
post natal depression
dit is ons elke dag beskore
om op tv te ervaar
hoe word kinders gebore
dit help om produkte
te bevorder ...
en so verkoop ons meer
toiletpapier, ansjovissmeer
groen opwasseep
en van dies meer
8 April 1993
mooiweer
dit was vandag mooiweer
op bloubergstrand
ek sou graag my voete
diep laat wegsak
in die warm sand
maar dié plesier
word my ontneem
deur nóg 'n onbeheerde brak
gebring deur baas of nooi
om die skoon wit strand
onverskillig te bekak
sondag 4 julie 1993
uit eet
knus vanuit
die restaurant
ignoreer ons
die honger gesigte
buitekant
vir elkeen
met sy bord vol kos
kan dit min skeel
dat dié daarbuite
armoede
kosteloos deel
13 november 1993
"eauver the top"
tydens 'n uitvoering van
jennifer ferguson
wynland
swartland
hartland
wynland
smartland
12 april 1994
amsterdam townships
sou a d keet
met sy versie
oor die liggies van amsterdam
destyds kon weet
van al die leed
wat later sou stort
oor die amsteldam?
het hy gedink
hoe in eie land
in soveel hutte
skaars die lig van kerse brand?
16 januarie 1995
nav a d keet se gedig amsterdam
nommers
ons is bloot
nommers:
van die grootte
van jou hoed
tot die nommer
van jou voet
van jou nommer
as persoon
van die huis
waarin jy woon
en jou drukknoptelefoon
maar:
die één gemene deler
deel vir elk
dieselfde nommer
naamlik:
ses voet onder!
23 maart 1995
taalmonument
die taalmonument
plak teen paarlberg
soos 'n stuk
honde-ekskrement
'n starre simbool
uit klip en sement
van 'n eksklusiewe,
uitgediende sentiment.
3 april 1995
koerante
die deursnee koerant
in hierdie land
is soos 'n kefferhond
begrawe die beste bene
en hol blaffend
agter vullislorries rond
25 mei 1995
|