Proteste Deel 1
droogte
belese en erudiet
suig die digters,
meesters op woordspelgebied,
aan die intellektuele muse
se uitgedroogde tiet
23 desember 1994
vrydagmiddag
entropie
in elke lewe word
vir baie kort
die tweede wet
opgeskort
teen daardie wet
is niks bestand
geen lewenswil en geen gebed
17 september 1989
dillettante
god die dillettante
gebruik die universum
om 'n wereld
met mense
voort te bring
waarvan enkele
vir sy plesier
musiek kan maak
manuskripte kan vul met woorde
en museums met beelde en skilderye
10 januarie 1991
vooraand tot desert storm
die kinders van god
staan opgestel teen
die kinders van allah
in die persiese golf
intussen op verwoerdburg
speel ons rustig gholf
want:
god skreeu vir fulton allem
allah steun john bland
tewyl:
misleide siele
geleide projektiele
gereed maak in die sand ...
16 januarie 1991
na sy (voor)beeld
I
deur die tyre necklace
van die township verlos
die eksodus aangevuur
deur die brandende bos
II
josef se verloofde vrou
per mirakel bevrug
sonder te vra of sy wou
dawid wat owerspelig
batseba in haar bad beskou
III
die seun moes vir ons sonde sterf
en so die ewige lewe verwerf
herodes wat in bethlehem
alle seuns vergeefs laat sterf
sondag 28 april 1991
rondebosch se straatkinders
'seblief meneer
my nood is groot
ek vra maar net 'n iets vir brood
ja maak gou meneer
draai op jou ruit
en sorg dat jy jou deure sluit
slaan ook maar jou oë neer,
ontwyk my blik
en mag jy in jou welvaart stik
woensdagaand 6 augustus 1992
|