my hart verlang na die bosveld
hier êrens in my weet ek dat sou ek dalk
my polse sny of wreedaardig sterf
daar rooi afrika-grond uit my are sal loop
as ons lyke eendag opgegrawe word
sal daar bosveldgrassade aan ons hare vassit
en reëndruppels aan ons wange kleef
die verafkyk in ons oë fokus op 'n plaas
'n dam, 'n windpomp
en koeie wat laatmiddag huistoe bulk
waar ons ookal stap of tentopslaan
sal ons bly wag vir 'n namiddag donderstorm
of hunker na 'n weskus sonsondergang
waar die lewe jou mag spoel
wens ek vir jou vrede en vreugde
en die warm afrika son op jou vel