vuurklip

Afrikaans
   Peter Blum
   Boerneef
   Carol Clark
   TT Cloete
   Clinton V. du Plessis
   Louis Esterhuizen
   Elisabeth Eybers
   Ingrid Jonker
   AD Keet
   Olga Kirsch
   DJ Opperman
   SJ Pretorius
   Veralda Schmidt
   Adam Small

      
DJ Opperman
uit: Heilige Beeste 1945

Voorwinter

Ek mis jou losgestorte hare teen
my hals in hierdie kwynende seisoen;
ek weet vereensaam in die nag alleen
hoeveel ek nog vertrouelik wou doen.

As strakgespanne palmvingers tril
en bome nie meer blad of bloeisel dra,
maar alles kaal word en die nagte kil
dan brand in my die rooi poinsettia.




Eilandgroep

Dit is maar enkel waan
dat ons 'n eenheid was;
groot stromings van die oseaan

het ons geëiland tot 'n argipel
van enkelinge waar ons briewe rou en skel
van strand tot strand soos meeue fladder
en van mekaar se eensaamheid vertel.

Wild staan die palms bo die water,palms, bamboes en die gras,
maar in die onbewuste dieptes êrens ...
êrens is ons aan mekaar nog vas.




Seesoom

Terug gly
die watervoue oor die strand
en op die kaalte bly
die nat klip met sy gleufie sand
waarin die seekomkommer groen en blink
een oomblik rus
voor dit vanaf die wit heup van die strand
op wyer golwe van die vreugde sink.




Twee stede

Onmagtig moes ek met gespanne drade
uitgryp oor die skeiding tussen my en jou,
gryp met die swart draf van die pale
teen heuwels uit,
die wit vlug
van briewe deur die lug
en treine wat deur tonnels fluit.

Uiteindelik is ons nouer aan mekaar verbonde,
maar tussen my en jou ruis altyd nog
riviere, stiltes en afgronde.
   
   

21-06-2025 01:42:38
page 157/18 count: 75
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25