vuurklip Afrikaans Peter Blum Boerneef Carol Clark TT Cloete Clinton V. du Plessis Louis Esterhuizen Elisabeth Eybers Ingrid Jonker AD Keet Olga Kirsch DJ Opperman SJ Pretorius Veralda Schmidt Adam Small
| | | A.D. Keet
uit: Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte
(Bert Bakker 1999)
Saamgestel deur Gerrit Komrij
Muskietejag
Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net 'n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plagery
Kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry -
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria -
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie...
Hoe sedig sit hy, O, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
Nóu gaan die vabond sterwe...
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, sowaar, ek sweer -
My naam is van der Merwe! | |