vuurklip

Afrikaans
   Peter Blum
   Boerneef
   Carol Clark
   TT Cloete
   Clinton V. du Plessis
   Louis Esterhuizen
   Elisabeth Eybers
   Ingrid Jonker
   AD Keet
   Olga Kirsch
   DJ Opperman
   SJ Pretorius
   Veralda Schmidt
   Adam Small

      Sestien gedigte uit die Middelspel gedeelte van die bundel Patzers (Human & Rousseau 1997)

Tydsprong

(We) are like sand in the hourglass which can be time only in falling. ANA BLANDIANA

En
ons val
uit Gods hand
deur
blou stiltes
klipdimensies
van ruimte
moulose wolke
van vere gestroop
ten aarde
met ons vlerke
na onder gebuig
soos die arms
van 'n gebreekte
kruis
val
ons tyd
binne sand
deur
die uurglas
se dunste
knak
as
mens
nie vanweë
opset of moedswil
maar oorlat ons
moeg is





Die byevanger

Ein Mann wohnt im Haus der spielt met den Schlangen der schreibt der schreibt wenn es dunkelt nach Deutschland...
PAUL CELAN (Uit: TODESFUGE)

Swart stroop drink ons saans
drink ons smôrens drink ons snags
drink en drink ons
die bye grawe deur die lug 'n korf
in die lug waar ruimte genoegsaam is
strek die man sy arm uit 'n slang
skilfer los skryf rookspirale
oor stede mense wanneer die lig gedoof
word die man salueer die goue stroop
swart drink ons die stroop
uit die korf die goue gloed van bye
grawe deur die lug die man staan
voor die skare in sy hand swerm boste
blomme in die net van woorde word dit
donker word dit nag die korf glim
soos sterre in die swart stroop
en hy sing en ons dans

Om en om die opening grawe dieper
roep die man vanagter sy kort snor sy oë
is blou onder die narrepet hy dirigeer
die saluut soeter die musiek van die môre
in die sooie van die korf drink drink
beveel hy slange kriewel uit skoorstene
oor die dansende werkers die bye kleef
swart om die openinge in die lug
die korf woed onrustig vlieë
dwarrel neer klou
aan wonde

as konfetti vir die vliegengod
se gestroopte bruilofsfees

Arbeit macht frei!




Lady Lazarus

I have done it again.
SYLVIA PLATH

Stil 'n leeftyd lank lê ek hier
in stomende donker met aandenkings
van my verblyf in kaste weggebêre

Die bed metaalklamp liefdelose
arms 'n leeftyd lank ek het dit
weer gedoen 'n kat het immers

Nege lewens daar bly nog ses oor
hulle kerm om my staan met brandoë
elke beweging en afloer

Ek bang hulle nie daar is geen
wind in die bome ek soek hul kloue
in my lyf die takke skeur

Deur die vensters leeg in my oë
slapnek soos die mossie in hul kake
ek seën die bloed o, om te sterf

Is 'n kuns soos geen ander-
En niemand doen dit beter as jy nie
flikflooi die dokter langs my bed

Ek hoes in die sakdoek
hoes in die engel se bebloede kleed
breek die kapsule

Ek lief hom my minnaar in wit jas
maar durf nie by hom bly. Los my die pyn
pleit ek liefies en kus

Teer die hand die gebreekte engel
onder my tong koorsig vlam die wind
op-

Ek kom, daddy o, ek kom, maak oop
die deur, maak oop jou arms, ek kom
met my lyf 'n nazi deurskynlamp

My voet 'n papiergewig
my tande vol goud vir jou byekorf-
Moet my nie weer wegstuur nie

Ek kom
na hulle wat die dood se wurms
van my lyf pik, ek kom.

Jou meisiekind sal ek wees-
Jou lieflingkind met heuning in haar
mond

Die wind brand my tot as, die wind
smelt my hulle krap deur die flenters
as, hulle soek na jou

Hulle weet
ek sal jou nie weer
opgee-

Herr God, Herr Lucifer
Beware
Beware.

Out of ash
I rise with my red hair
And I eat men like air.




Helter Skelter

Ek is 'n positiewe mag, ek kollekteer
negatiewes ek is die man met 'n duisend
gesigte ek is niemand, ek is almal, ek
gooi messe na teikens teen die muur
die meisies wydsbeen gepen-
Ek laat my met leerbande op 'n houtkruis
vasmaak, hulle kniel voor my, soen my
voete hulle smeer die bloed van 'n kat
oor hulle borste drink drink bekers vol
ek is die god van fornikasie ek inisieer
penetreer ritualiseer
drie ure op 'n slag die ou uit-en-in
tot die identiteit disintegreer.
Ek is die seun van die mens ek is
charlie manson ek gebied
vreugde is 'n warm geweer ek gooi LSD
in die drinkwater van ver is ek beeldskoon
van naby verrimpel aan die kruis is
christus, in die woestyn die preriewolf
dit is dieselfde, man, dieselfde-
En dit is goed so.

My dissipels skeer hulle hare
af voor my brand hulle dit ek asem
die walm in ek is hoog hoër hoogste ek is
godmanseun-
Gaan sê ek, gaan en ruk fetusse uit
die baarmoeders van swanger vroue gaan
en bring my helter skelter bring my
bloed om te drink brood om te eet
gaan: Ek is die man met 'n duisend gesigte
ek is charlie manson die seun
van die mens-

godmanseun




Gloria

Hy het vir iemand anders
gesterf nie vir my, nog minder
vir my sondes-
My sondes behoort aan my alleen
soos die meisie onder vloerplanke
weggelê moenie 'n fout maak nie
ek is skraal en bleek ek lyk
onskuldig maar ek is 'n moordwapen
stomp dog effektief my oë is blou
my hande teer maar bebloed
ek smeer strepe oor my gesig teen
die kerk se mure hy het vir iemand
anders se sondes gesterf
nie vir myne
ek drink bloed
ek spalk vrees wydsbeen oor die altaar
ek kerf hakekruise op die tonge
van diegene wat ek liefhet
tot in die derde geslag ek bring
die vreugde van vaders aan hul dogters
ek is die man langs jou
op die bus, die een wat jou 'n sitplek
aanbied
wat jou bedien in die kafee
wat jou hand 'n drukkie gee langs
die geopende graf wat 'n grap
ek glo nie in water wat wyn word nie
ek glo nie in die vergifnis van sonde nie
ek glo nie in die opstanding van die vlees
nie ek drink bloed-

Ek is die nie in niemand die een
vir wie se sondes Hy nie durf sterf het
nie: Die een wat jou kwansuis
nie traak
nie




Honger

Soos hulle
wat honger is
het ek na jou
gekom gevat wat ek
wil soos hulle
dikwels doen
jou op die vloer
vas
gedruk jou bene
mikstok gemaak
jou klere oop
geruk knope
laat spring deur
die lug
o God die bloed
spoor oor my
oor jou
gekrapte merke
die skewe
lip
opgeswel die sny
teen jou voor
kop
Gevat want ek
was honger
bang en kwaad
soos hulle
dikwels
is




Poncelet

(Matthew Poncelet in Dead Man Walking)



Jy vertel my van WC Fields
wat op sy sterfbed sy Bybel gelees
het op soek na 'n skuiwergat jy vra
my of ek 'n Bybel het
Stories uit my kinderdae onthou ek
wel my ma slapenstyd met haar Bybel
op haar skoot
haar vinger wat oor die bladsye
kruip
Ek onthou die dun papier wat sommer
poef! wegfrommel onder my lighter
Ek onthou die skadu's wat die kers
teen die muur worstel
gedaantes wat oor haar skouer loer
Soms engele, maar nie te dikwels
goddank

Ek onthou haar stem die ritme
waarmee sy lees altyd dieselfde
soos 'n rivier wat verbystroom
onstuitbaar
verder, al hoe verder weg
tot die woorde onhoorbaar druis
deur die slaap wat sy
met soveel sorg
om my vou

Jy vra my om my Bybel te lees,
suster Helen: Vergewe my, maar ek kan
nie. Dit laat my vandag nog slaap
raak

En in die slaap wag
die dood. Wakker bly is my skuiwergat.




Sister Morphine

This is my last shot of you.
PATTI SMITH

Breek weg
skreeu ten hemele, nee-
Vloek ten hemele ek weet waar jy is
ek ken jou
drome
jou woorde goeienag goeienag
ek sien jou van ver ek sien jou
skreeu
pyn is 'n skouer 'n dankbare geslobber
teen die skouer swart is die doek
blink die rivier
die mantel van water kom na my kom
ek ken jou ek weet waar jy was
ek hoor jou
rooi in die naald op sug voor
die dompelaar my helder stoot na jou
dit is so bestem teen die wind
se skouer galop galop weg met my kom
breek weg skreeu ten hemele vloek
ten hemele jy is myne ek het jou
gedoop
met swart water van die rivier
jou gestroop
van mooi woorde mooi frases tyd
is 'n mite my lief pyn is my silhoeët
dit is ek by jou, slaap nou slaap
warm slaap soet dit is ek
die landskap blink in jou opgelos
ek wat teer jou drome masseer
ek wat blomme bring die aarde smelt
weg




Marianne

later i took some sleeping pills, i needed to lose...
MARIANNE FAITHFUL

Getrou aan my naam
nie met die verlede hoereer wel dikwels
met die toekoms fornikeer die verhoog
se splinters geliefkoos met my vel sag soos
fluister in die beddens van begeerte
my bene oopgemaak die son die breek deur
mure
kom my geliefde, my bebloede minnaar, kom
ek is gereed ek is gereed
het ek gekreun
die mikrofoon begeer die fallus my lippe
sluit honger om jou
om die gefluit die gejil die skare
getrou aan my naam al die gisters
in 'n glas konjak weggewas
wit soos more se sneeu voor jou gestaan my
liefsteling my gekweste hartlam ek is gereed
hier op die verhoog tussen die splinters
jou liefkosings in bloedhale oor my lyf
geskryf kom kom penetreer my breek my
oop die musiek is groen en wit die musiek
is pers en wit my sluier jou bruid wil ek
wees
jou handlanger jou metgesel die teiken
vir jou vuis vir jou kus kom my judas wis my
uit

met al jou môres 'n laken van sneeu
oor my uitgelê. kom, wis my uit




Jimi

Y'all up on the hill, don't think you can fly, because you can't!
JIMI HENDRIX

Kyk, die man met die groot voël
onder sy arm vasgeknyp, kyk die man
met die bont hemp en die omgekeerde
vlerk-

Die man breek die voël se bek oop,
die man pluk die trillende tong uit
met sy tande
en die voël skreeu weg deur takke
vol in die vlam: Kyk, kyk-

Die man op die draagbaar
het 'n voëlgeraamte in sy keel,
hy verstik: Draai hom om,
draai om-

Hy vlieg weg-

Swart voor swarter son-

weg.




Kurt

Kom nes jy is

Jy's welkom ongekam met jou vel gif
deurdrenk as eerste blom
in die lente

Stupid dog aansteeklik. Kom, ek wag
bebloed wat dit ook al mag beteken
nes jy is

O, om my vinger te mag steek
in die gat van die leuen. 'n Geweer
het jy gesweer, het jy nie

Maar die system het jou glo 'n gat
in die kop gepraat, dollar weivelde
groen beloof

Kom nes jy is-
Stupid & aansteeklik:

I'm worse at what I do best
and for this I feel blessed!

Nevermaaind




John-o

Verbeel jou
die tyd is nou,
soos 'n koeël uit die verte
het die dag op jou afgekom-
As dubbele fantasie
in stilspoed
gevries
raampie vir raampie
op jou afgesnel. Van ver af
die lui rotasie, die groewe
oor die doodkop geëts
agter jou oor
verstar




Bon Voyage

When hope is gone, the ultimate sanity is to grasp at straws.
RAYMOND CARVER

In wese is poësie onfatsoenlik,
dit bring dinge voorheen obskuur
na vore: Ons knip ons oë
en 'n tier spring
sigbaar
met slu sy stert
lispelend voor ons in die oopte.
Die woorde het jy by Milosz oorgeneem
en geglo, dag na dag
ingedrink
soos 'n dosis medisyne, want woorde
is daadkrag: Dit berei die siel voor
op onafwendbare vertedering,
sê jy. So was dit ook
in die laaste dae-
Urelank het jy en Tess jul reis
na Chekov se geboorteland beplan:
Tot jy kortasem terugsak teen
die kussing in roggelende
opwinding.

En Tess wou ten laaste maal troos
deur te fluister dat sy steeds sou gaan
namens julle albei, 'n roos
op Achmatova se graf
sou plaas-

Vir jou. Maar jy het geweet jy sou
lank voor haar daar wees. Jy reis
ligter, jy reis

oombliklik




Bukowski I

Ek sien jou
ge-halfjack by die resies
baan, lekker geswaai stotter
jy by die tattersalls verby-
Alles verloor
weer eens 'n slegte dag
die volksie se clutchplaat gly
al die pad losieshuis toe

Nog later lê jy
deurtrek met horries op die bed-
Jane is by jou, gedienstig spons
sy jou af. Miere kriewel
deur jou are vreet jou
hol: "I'm burning in water,
I'm drowning in flame!" prewel jy
skielik liries

Van inspirasie en jy luister
na 'n goddelike Beethoven-konsert
terwyl Jane agter die toe deur
'n ekstra geldjie los
kreun

En agterna
hou jy 'n kortvinger gesels
na my uit soos 'n joint besteblaar-

Ek dank jou, Charles Bukowski.




Bukowski II

In this room
the hours of love
still make shadows.

When you left
you took almost
everything.

I kneel in the nights
before tigers
that will not let me be.

Hemels, Charles-
Vir hierdie reëls vergewe
ek jou baie: Het jy dalk vermoed
al die kere wat jy jou geliefde
in die nag uitgestuur het
om poësie huis toe
te bring

Dat jy eers na haar heengaan
jou beste werk sou lewer, dat jy
met die ligte somersrok wat eens
om haar geflikflooi
het

Straat af sou loop op soek
na 'n god, iemand om haar terug
te gee aan jou? Jy weet tog-
Orpheus sing op sy
dodelikste

Vanagter die hel
se traliewerk




Dostojewski

(Na J.M. Coetzee se boek The Master of Petersburg)

Jou seun Pavel val iewers
kletterkoud deur die honger nag
van Petersburg: Gestamp of gespring-
Die oorsaak is nie duidelik
nie

Jy dwaal deur die strate
snags op soek na Pavel se demone-
Jy slaap in sy bed, drink uit bekers
wat vroeër in sy hand gehou
is

Oplaas bevind jy
sy vlerke het met die nag
verstrengel, die koue het die vere
loodswaar teen sy lyf laat
klamp

En hy het geval-
Die yskoue demoon in die spieël
herken jy. Dit is jy en jy skommel
die kaarte

speel nog 'n hand

   
   

21-06-2025 02:55:08
page 152/7 count: 123
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25