vuurklip

Afrikaans
   Peter Blum
   Boerneef
   Carol Clark
   TT Cloete
   Clinton V. du Plessis
   Louis Esterhuizen
   Elisabeth Eybers
   Ingrid Jonker
   AD Keet
   Olga Kirsch
   DJ Opperman
   SJ Pretorius
   Veralda Schmidt
   Adam Small

      
Boerneef
uit: Versamelde Poësie waarin opgeneem is:

  • Namakwalandse Rympies
  • Krokos
  • Ghaap en Kambro
  • Pallisandryne
  • Mallemole
  • Op die Flottina
  • Sesde Hoepel



Elke aand as die skemer kom
sit ou Brabanner by sy vuurtjie en brom
die aarde is 'n vangkraal
en uitkomkans is min
dit is maar altyd sukke tyd
jy moet die noute in
uithang en holrug maak help niks
soebat en bangoog kyk help niks
niemand en niks help niks
jou voorland is die noute in
want die aarde is 'n vangkraal
en uitkomkans is min



Die vuur brand laag
die winter koud
July is lank
ou Sampie oud
wies saans by die deur
wat wil hy hê
is aant binnetoe beur
wil laans my lê



Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so geel soos herfspamplier by Dwarsrivier op Ceres
slaan rem aan hou jul asem in en kyk en kyk
lank en eerbiedig soos 'n mens na so 'n herfs moet kyk
laat dit inbrand in jou vir later tyd
die warm geel en rooi vir latenstyd



BOPLAAS HET WEER TOEGEVAL

Boplaas het weer toegeval
van wit kapok en dik kapok
soos in my vroeë kindertyd.
Die berge in die noordekant
lyk net soos in my kindertyd -
tog glansender en kouer wit
en spokiger en bleker wit
as in my vroeë kindertyd.
Hoe kon ek weet in daardie tyd,
by die vuurherd met sy tolbosgloed,
van die nat kapok se venynigheid?



By Pramberg blêr 'n moflam
van hongerte en dors
by Pramberg vrek 'n moflam
dit is vanjaar die stryk
sny keelaf wat nog lewe
dis hoeka sukke tyd
by Pramberg blêr geen moflam
maar die jakkals hou jolyt
   
   

21-06-2025 02:54:08
page 148/31 count: 122
function if_ShowPage_00
version: 2023-04-14 11:41:25