vuurklip Afrikaans Peter Blum Boerneef Carol Clark TT Cloete Clinton V. du Plessis Louis Esterhuizen Elisabeth Eybers Ingrid Jonker AD Keet Olga Kirsch DJ Opperman SJ Pretorius Veralda Schmidt Adam Small
| | |
Peter Blum
uit: Steenbok tot Poolsee
(Tafelberg-Uitgewers, Derde uitgawe 1981)
DIE ROMEINSE GRENSPROVINSIES
(1) BRITTANNIA:
Ons fort was nog altyd die ontwerp
van 'n ryk wat aan wildheid sy limiete gee;
maar hulle hou drifte en byle skerp,
en wag net totdat ons 'n oomblik skietgee
(2) GERMANIA INFERIOR:
Hulle het hier feitlik wortel geskiet
as windskerm in die stormhoek van die ryk:
duskant en oorkant modder, sand en riet
tot albei oewers ewe huislik lyk.
(3) AGRI DECUMATES:
Hoe kon hul dit verstaan, die veterane -
opgelei om die barbare te bestry?
Besluit? In Rome? Dat die bos-Germane
kragtens verdrag dié landstreek nou kan kry?
(4) NORICUM:
Keiser, krygsman en stoïsyn,
beoefenaar van alle deugde,
waak hy teen wie die Ryk wil ondermyn -
sonder die minste lewensvreugde
(5) PANNONIA:
Stuur my versterkings! Stuur 'n battaljon!
'n Vroeë winter - ons linies in die gedrang!
Maar onder Italië se prikkelende son
is 'n burgeroorlog in volle gang.
(6) MOESIA:
Sommer 'n japie - hunker na die hoewe,
gesaaides, stamgenote, en sy vrou:
hy moet die dood leer saai, maats maak met boewe,
en met 'n swyende, kille arend trou.
(7) CAPPADOCIA-ARMENIA MINOR:
Die blaasmusiek is vals, die bergpas steil:
soos verdwaaldes marsjeer die legioen.
Waar is triomf en tuiste? Elkeen kwyl
en hy dink aan die kampvuur en sy rantsoen.
(8) SYRIA-COMMAGENE:
Saans kom die barbarevroue na die fort af
met swaaiende heupe en vleiende stembuiging:
Die soldate weier, pligbewus en kortaf,
en praat van Rome - sonder veel oortuiging.
(9) ARABIA PETRAEA:
Dagtaak en dissipline, 'n rantsoentjie wyn,
was religie, en twyfel was verbode:
Nou sien hulle nagteliks offervure skyn,
en voel 'n hunkering na nuwe gode.
Twee van die Kaapse Sonnette uit dieselfde bundel.
4. OU GROENTESMOUS
Die stad word altyd nuut, 'n mens word ouer
en word 'n vreemdeling in jou eie wyk
wat om jou groei. Terwyl jy staan en kyk
word jou huis donkerder, jou straatjie nouer.
Jou gasag oor jou kinners word ook flouer:
Hulle wat eers skaars jou knieë kon bereik
staan netnou hard teenoor jou, en gelyk,
en netnou-netnou raas hul bo jou skouer.
Ons karretsjies word ook ammel ingehaal:
Daa's Abels - hy beef nou op die Laaste Skaal ...
en Fransman - hy ry voor 'n stoet sy laaste trippie.
Lyk my net Tafelberg bly wat hy was,
so't ek hom kan herken. Ja, Mies, hy skop vas
teen die wind en die weer. Hy's 'n goeie ou klippie.
5. OPWEKKINGSPREEK:
Ja, hulle't ook so 'n building-boom belewe -
met flets, basaars, banke en groot kantore.
Dit het nooit gareent nie, en op elke more
kon jy katrolle hoor gil, planke sien bewe,
van douvoordag tot skiemerang om halfsewe.
"Ek issie voorman hier op Babilons Tore
- opskud, kjêrels, en trap in julle spore,
of julle word innie pad gasteek." Hulle strewe
om die bou te voltooi met dubbele drif;
maar toe hulle aankom oppieselle vlak
as die Ou Mutual se torangdak
kon skielak niemand Afrikaans verstaan,
en toe die een ou sê, "Sjee my die sif",
gee sy maat hom 'n emmer water aan.
| |